Gerda de Villiers
Inleiding
Geslagsregisters is nie die opwindendste gedeeltes in die
Hebreeuse Bybel nie. Meestal bestaan hulle uit lang lyste met vreemde name van
karakters van wie ‘n mens dikwels nooit weer hoor nie. En tog vervul geslagsregisters
‘n belangrike funksie. In die Ou Testament waar geslagsregisters aan die einde
van ‘n storie gegee word, vertel elke naam iets oor die verlede of slaan ‘n
brug na die toekoms. Byvoorbeeld, na die vertelling van die skepping van die
wêreld, volg die geslagsregister van Adam tot by Noag en sy seuns (Gen 5). Die
vloedverhaal word dan vertel, en eindig met die nageslag van Sem, Gam en Jafet
(Gen 10). Daarna word Sem se nageslag uitgesonder (Gen 11:10-24) om die oorgang
na die verhale van die aartsouers te bied: Abraham en Sara, Isak en Rebekka en
uiteindelik Jakob en sy vroue.
Tradisioneel bevat geslagsregisters die name van die vaders, die
name van die mans. Maar sonder vroue sou daar geen stamboom gewees het nie! In
hierdie teo-bydrae wil ek veral die rol van vroue in die geslagsregisters van
die boek Genesis bekyk.