Daniel Jacobs het die kwessie van familiewapens deeglik nagevors. Hieronder verskyn ‘n verkorte weergawe van 'n artikel waarin hy die aangeleentheid toelig - Redaksie.
**********
Ons gebruik van familiewapens het sy oorsprong in die Middeleeue, toe 'n ridder uitgeken is aan die wapen op sy skild, en is reeds ongeveer negehonderd jaar oud.
Daar bestaan 'n wanpersepsie by waarskynlik die meeste Afrikaners dat hierdie tradisie daarvoor voorsiening maak dat 'n familiewapen aan 'n hele familie kan behoort.
Een van die grondbeginsels van die heraldiek, of wapenkunde, wat internasionaal en oor eeue heen aanvaar is, is dat 'n spesifieke wapen net gebruik mag word deur een individu. Die hele gedagte was dat dit 'n stelsel van persoonlike uitkenning moes wees.
Daar bestaan dus nie so iets soos 'n wapen vir 'n hele familie nie. Ná die pa se dood mag sy oudste seun sy wapen oorneem. Tydens sy pa se leeftyd mag die seun slegs sy pa se wapen gebruik nadat 'n spesiale merk op die wapen aangebring is, wat dan verwyder word ná die pa se dood. As die tweede oudste seun ook 'n wapen wil hê, moet hy sy eie laat ontwerp. Dit kan gedoen word deur die aanbring van 'n wesenlike verandering aan sy pa se wapen. Die wapen kan dan ná sy afsterwe weer deur sy oudste seun gebruik word en dan ad infinitum van oudste seun na oudste seun oorgedra word. Dogters kan ook hul eie wapens laat ontwerp.
Namate daar gedurende die vorige eeu 'n toenemende belangstelling in familiewapens by Afrikaners ontstaan het, het baie mense bestaande wapens oorgeneem sonder dat hulle aanspraak daarop gehad het. Só bv. sou 'n Gous die wapen van 'n ou Gous-familie in Frankryk opspoor en dan die wapen as sy eie aanvaar sonder om eers navorsing te doen om vas te stel of hy daarop geregtig is om die wapen te gebruik. In 'n inligtingstuk van die Buro vir Heraldiek in Pretoria word o.m.die volgende gemeld: “Hierdie wapenoornames het sy hoogtepunt bereik in 'n reeks genealogiese artikels wat deur N H Theunissen onder die opskrif Afrikaner ken uself, in die tydskrif Die Brandwag gedurende veertigerjare gepubliseer is." Saam met die artikels is familiewapens afgedruk wat deur baie lede van die onderskeie families as hulle familie se wapen aanvaar is. Sommige van die wapens was bestaande wapens wat oorgeneem is uit heraldiese bronne terwyl ander weer deur Theunissen saamgestel is uit die onderdele van verskillende wapens.
Die gebruik van wapenoornames het egter nie net in Suid-Afrika voorgekom nie, maar oor die eeue heen ook op groot skaal in Europa en dan veral op die vasteland.
Indien iemand regsbeskerming sou verlang vir sy familiewapen, kan hy dit laat registreer by die Buro vir Heraldiek. Kragtens artikel 21(b) van die wet mag niemand so 'n geregistreerde wapen of 'n wesenlike deel daarvan gebruik, naboots verkoop ens. sonder die skriftelike toestemming van die eienaar nie.
Soos reeds genoem, hoef hy nie 'n heeltemal nuwe wapen te ontwerp nie, maar sou bv. ‘n element in sy pa se wapen kon vervang deur 'n simbool wat verband hou met sy beroep. Indien u meer inligting benodig oor die ontwerp en registrasie van 'n wapen kan u die Buro vir Heraldiek by 012-3235300 skakel. U kan ook skryf aan die Buro vir Heraldiek, Privaatsak X236, Pretoria 0001.
Die Heraldiekwet verplig 'n mens egter nie om jou wapen te laat registreer nie. Die gemene reg (d.w.s. ongeskrewe gebruik wat algemeen as regsgeldig aanvaar word) laat dit toe dat enige persoon sy eie wapen mag laat ontwerp en gebruik mits dit nie met 'n ander se wapen bots nie.
Dit is dus aan te bevele dat mens jou wapen laat registreer.
Dit is ook interessant om daarop te let dat die Heraldiekwet dit tans verbied dat enigiemand in Suid-Afrika 'n afdruk van 'n familiewapen mag verkoop tensy hy of sy oor 'n sertifikaat van egtheid vir die betrokke wapen beskik. Die Buro vir Heraldiek sal so 'n sertifikaat slegs uitreik vir wapens wat by hulle geregistreer is. Diegene wat dus o.m. by skoue en in winkelsentrums sleutelringe, asbakke, sertifikate ens. verkoop waarop familiewapens afgedruk is, oortree die wet.