Emmarentia Ferreira
Ek het my familie geken, maar nie ‘n besondere belangstelling daarin gehad nie.Toe word ek aan die diep kant ingegooi toe Janet Melville my vra vir my man se familie se inligting. Omdat hy een van tien kinders was, het dit in ‘n nogal lywige stukkie werk ontaard.
Janet was destyds verbonde aan die Universiteit van Port Elizabeth . Sy het gewerk onder prof. De Kock wat die hoof van die Rekenaar Departement was. Beide het omtrent hul lewe lank in genealogie belang gestel en het dus reeds oor ‘n lywige databasis beskik. Ek het nie geweet hoe ‘n rekenaar lyk nie!
Die Ferreiras is familievaste mense, en voor ek my kon kry, het navrae begin instroom. Janet het eenvoudig uit P.E. beveel: ”Besoek kerkkantore!” Hier het ek my eerste fout begaan. Gewapen met potlood en papier, het ek nie altyd al die feite neergeskryf nie. Nadat die eerste Ferreira-boek verskyn het, het verskeie mense nie met die geboortedatums saamgestem nie. Skryf dus die geboortedatum, doopdatum, ouers se name en die moeder se nooiensvan en die plek noukeurig neer, dan kan ‘n ou nie met jou stry nie.
Jy kan beslis nie gebore wees nadat jy gedoop is nie! Kerkkantore is ook net voormiddae oop en op kleiner plekkies soms net twee dae van die week. Hulle sal ook nie vir jou ‘n uitsondering maak nie. Sorg dus dat jy op die gegewe dag op die regte plek is!
My volgende opdrag was: “Begraafplase.” Daar is verskeie voorsorgmaatreels wat jy hier in gedagte moet hou. Kerkhowe wemel van miere en klein rooi perdebytjies wat jou bloed soek! In kerkhowe is dit altyd warm en skaduloos as jy dit gedurende die dag besoek. Pasop dus vir sonbrand en ontwatering. Dra stewige skoene; ”gumboots” is die beste. Kerkhowe is gewoonlik begroei met duwweltjies, wewenaars en klitse; jy kry dit moeilik uit jou kouse.
Plaasbegraafplase kan ander probleme oplewer, soos doringdrade, honde en dalk ‘n volstruis wat jou jaag.; kry maar liewer die boer se toestemming.
Teen hierdie tyd het ek begin leer van sterftekenisse, meesterkantore en argiewe. Maak seker van hul tye en of hulle jou kan akkommodeer. Ek was gelukkig omdat my kinders in Kaapstad woon en as ek gaan kuier het, het ek sommer die Meesterskantoor en Roelandstraat se Argief besoek. Destyds was die N.G. Kerkargief nog by die Tuine en het ‘n mens nog toegang daartoe gehad. Vandag het al hierdie dinge verander.
Deur genealogie het ek baie mense ontmoet, plekke leer ken en ook my mensekennis verbreed. Alles was egter nie maanskyn en rose nie. Ek was deur ‘n hond gebyt en eenkeer het ‘n volstruismannetjie langs die draad op en af geloop waar ek oomblikke tevore was. Ek het met geskeurde klere huistoe gegaan weens doringdrade klim. Met Janet moes ek een dag haastig ‘n dokter soek omdat sy allergies vir bysteek is. Die dag toe ek en Janet Meeding Ferreira besoek het, was dit na reëns en moes ons die motor agterlaat, deur modder en water loop en selfs een plek oor ‘n stroom water spring. Dit was voor selfoon dae en ons kon nie eers bel vir hulp of inligting nie. Daar was selfs dreigemente met die gereg. Dan skrik mens groot. Ek is juis so bang vir die hof .
Die ernstige Ferreira-familienavorsing het in 1996 begin, nadat ons ‘n familiesaamtrek gehad het. Ons het by oupagrootjie begin en probeer om al sy nageslag op te spoor. Die Ferreiras het baie kinders gehad en ons het bykans 200 familielede bymekaar gekry. Inligting het begin instroom en 3 jaar later het die eerste Ferreira-boek die lig gesien. Nog was dit nie die einde van die Ferreiras nie en in Augustus 2003 word ‘n verbeterde uitgawe gepubliseer. Die databasis beskik tans oor duisende name en dus is daar weer ‘n boek in die pyplyn.
Nou het ek ook ‘n rekenaar. Party dae tot my verdriet. Met die huidige tegnologie het alles verander, makliker en onpersoonliker geword. Gee my maar die ou dae met persoonlike kontak met die publiek!