‘n Facebook-aanhanger was ek nog nooit, maar die afgelope maande het ek ontdek hoe nuttig dié netwerk met die opspoor van familie kan wees. Voorgeslagte gaan jy nie kry nie, maar die nageslag wel.
Nadat ek my vergewis het van Facebook se werking het ek in enkele weke nie minder nie as 34 familielede opgespoor. Die waarde het veral gelê in die foto’s wat ek gekry het en basiese inligting. Daarna kon ek vir hulle boodskappe stuur en vir meer inligting vra.
Een van my mikpunte is om ‘n stamregister van die nageslag van my oupa Bosch saam te stel. In dié stadium is daar sowat 140 van hulle (eggenotes ingesluit). Buiten ‘n nuwe geboorte elke nou en dan het ek almal se name wat die soektog op Facebook vergemaklik het.
Die meeste volwassenes in die familie weet waarmee ek besig is. Hulle wil graag die stamregister hê, maar hulle stuur nie wat ek vra nie. Dis toe dat ek Facebook ingespan het.
Laat ek met ‘n voorbeeld verduidelik. Uiteraard is die eerste stap om ‘n Facebook-rekening te open – baie maklik.
Jaco van der Merwe, die seun van ‘n niggie, was die eerste naam wat ek na willekeur ge-“search” het (1). Facebook het ritse Jaco van der Merwe’s gewys. Ek het geweet sy ouers bly in Hermanus. Die vierde Jaco van der Merwe was van Hermanus. Kolskoot. Baie gelukkig.
Dit het ook getoon dat ons ses “mutual friends” (2) het. Dié ses was almal familie wie se name ek geken het.
Daardie ses “mutual friends” het sy onstaan by vorige name wat ek ge-“search” het en hulle as vriende geïdentifiseer het (add friend) (3). Jaco het dieselfde gedoen. Facebook het die ses name by hom en by my geëin en toon dat ons iets in gemeen het.
Hierna het ek op Jaco van der Merwe se naam (4) geklik om na sy Facebook-bladsy te gaan.
Intussen het ek hom ge-“add friend”. Hy kan nou besluit of hy my as ‘n vriend aanvaar of nie. Meer hieroor later.
Sy bladsy het my toegang tot baie gegee. Dit het getoon dat hy 97 vriende het (5) en 54 foto’s (6).
Die eerste ses foto’s hierbo was die “mutual friends”. Soos gesê: ek ken hulle as familie. Dit was my bevestiging dat ek by die regte Jaco van der Merwe is. Deur op die foto by (5) te klik, het ek nog familiename erken. Nog inligting en foto’s het in my skoot geval. Deur op die foto by (6) te klik, het ek pragfoto’s van onder meer sy troudag gekry. Daar was ook ‘n foto van sy huweliksuitnodiging. Só het ek vasgestel met wie, waar en wanneer hy getroud is.
By (7) word getoon dat ek hom versoek het om ‘n vriend te wees, maar ek het nog nie van hom gehoor nie. As hy my aanvaar, sal ek ‘n epos kry. By (8) kan ek op “Message” klik en private boodskappe aan hom stuur. Niemand anders sal weet wat tussen ons twee gesels word nie. Ek het ‘n punt daarvan gemaak om mense hul epos-adresse te vra. Daardeur was ek verseker van privaatheid en dit was makliker omdat ek al daarmee vertroud is.
In een geval het ‘n opgespoorde familielid ‘n drukstuk aangevra van wat ek alles oor sy ouers en hul nageslag het. Hy het feitlik alles wat ek kortkom van sy broers en susters gekry en aan my gestuur en epos-adresse ook. In ‘n ander geval het ‘n nukkerige neef se skoondogter dieselfde gedoen. Daardie deel van die familie het lankal van die aardbol verdwyn totdat dié skoondogter uit Botswana op Facebook van haar laat hoor het.
Deur te werk te gaan so hierbo beskryf met ander familie, het ek heelwat bekom. Party het gou geantwoord, ander was traag. Hoe ouer, hoe gouer.
Om ‘n foto wat op Facebook is, te kopieer, is maklik. Linksklik met jou muis op ‘n foto, doen dit ‘n tweede en selfs ‘n derde keer tot die foto alleen staan en die maksimum grootte is. Regsklik op jou muis en dan op “Save Image As … “. Gee hom ‘n gepaste naam en berg hom op jou rekenaar.
Dit moet beklemtoon word dat nie almal se Facebook-bladsye so toeganklik soos “my” Jaco van der Merwe s’n was nie.
Facebook het heelwat “settings”. Met een van dié “settings” kan ‘n mens jou Facebook-bladsy privaat maak. Niemand kan dan iets van jou bladsy sien nie. Jy sal slegs toegang daartoe kry as jy hom “Add Friend” en as hy jou daarna as ‘n vriend aanvaar. Dis waar “Add Friend” se waarde eintlik lê.
Hiernaas word ‘n klompie Jaco van der Merwe’s getoon wie se bladsye privaat is. As ek nie die regte Jaco van der Merwe gou gevind het nie, kon my soektog baie lank geneem het.
Hierdie aspek hou verband met die unieke samestelling van name en vanne. Daar is baie Jaco van der Merwes en Piet Smit/h’e, maar min wie Connie Putter is.
Uit die amper een miljard Facebook-deelnemers in die wêreld is daar byvoorbeeld
- net een Maureen McCleland, een Stief Rootman en een Ilze Prozesky;
- twee Barry Vosloo’s;
- 17 Naas Olivier’s, maar net een Naas en Amor Olivier (slim gedoen);
- Willem Botha en James Sadie of Sadie James is volop;
- twee Myra Bosch’e en;
- nie ‘n enkele Diek van Wyk of Jan Schonken nie.
Facebook het baie fasette. Om te weet hoe alles werk, is daar net een raad: speel daarmee. Behalwe jou naam, epos en ‘n paar basiese stukkies inligting hoef jy nie iets te skryf en jouself te ontbloot nie. Kyk wat ander gedoen het.
In die genealogie doen ons baie moeite om die voorgeslagte op te spoor. Facebook is die plek om die nageslag wat ons ontwyk, te vind. Die heerlikheid daarvan is dat amper elke Facebook-bladsy ‘n mens toegang gee tot nog iemand anders se inligting en foto’s.
In die genealogie doen ons baie moeite om die voorgeslagte op te spoor. Facebook is die plek om die nageslag wat ons ontwyk, te vind. Die heerlikheid daarvan is dat amper elke Facebook-bladsy ‘n mens toegang gee tot nog iemand anders se inligting en foto’s.