Khoi-Khoi-kommandolid |
Die beeld van ’n kommando as ’n gevegseenheid van wit mans met ’n enkele doelwit is heeltemal verkeerd. Die regering het die burgers toegelaat om hul Khoi-Khoi- of Baster-Khoi-Khoi-werkers saam te bring, of selfs as plaasvervangers te stuur. So baie ryk burgers het Khoi-Khoi in hul plek gestuur dat ’n burgeroffisier gewaarsku het teen ’n dag “wanneer ek met net [Khoi-Khoi] op kommando sal moet gaan, wat nie mag gebeur nie”. In 1774, op die vooraand van die groot kommando teen die San, was die burgers oortuig dat niks sonder die hulp van “goeie en getroue [Khoi-Khoi]” bereik sou kon word nie.
Die Khoi-Khoi wat op kommando saam met die burgers geveg het, het verskeie motiewe gehad. Sommige wou wraak neem op die San wat hulle aangeval het terwyl hulle vee opgepas het, en ander het die kommando beskou as ’n baie goeie manier om self vee te verkry. ’n Deel van die vee wat gebuit is, is altyd onder kommandolede verdeel, en die res aan die burgers oorhandig. ’n Khoi-Khoi het feitlik altyd minder as ’n burger ontvang, maar het altyd iets gekry.
Uit: Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika saamgestel deur Hermann Giliomee en Bernard Mbenga. In 2007 uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.