In die laat 18de eeu was daar ’n geval waar ’n burgerleier die opsies in die stryd tussen burgers en die San op ’n radikaal nuwe manier benader het.
Veldkommandant J.P. van der Walt was aan die hoof van verskeie kommando’s wat in die 1770’s en 1780’s na die noordwesgrens uitgery het. In 1793 het hy hom in ’n streek gevestig waar daar min San oorgebly het. Die regering het hom ’n vrye hand gegee om hom te vestig en, soos die regering se brief dit gestel het, “met die hulp van sy familie die diewe uit te wis ”. Daar is geen getuienis dat hy die kommandoveldtogte of die gevangeneming van Sankinders in dié stadium bevraagteken het nie.
Vyf jaar later het hy egter anders gedink. Al het verskeie kommando’s uitgery, het die San steeds oor ’n breë front aan die noordgrens aanvalle geloods, en talle burgers gedwing om hul plase te verlaat. Van der Walt het die landdros gevra om te weier as hy versoeke kry om kommando-aanvalle op die San te loods en hul kinders gevange te neem, want “die burgers sou ook alles inspan indien hul kinders van hulle weggeneem sou word”.
Onder sy aanvoering het die burgers 283 skape asook tabak en krale aan die San-clans geskenk om hulle te oorreed om vreedsaam op hul eie plase te woon. Die veldwagmeesters van Middel-Roggeveld en Hantam het skape en ander geskenke begin bymekaar maak om aan die San te gee, sodat hulle sou ophou steel. Hoewel daar selfs tot in die 1820’s in sommige noordgrensgebiede aanvalle deur San was, het kol. Collins in 1809 geskryf hoe bevredigend dit was “om waar te neem watter sorg die boere van die noordwestelike distrikte dra om deur versoening eerder as terreur die vrede met daardie mense te bewaar”. In die 1820’s het landdros Andries Stockenstrom en die sendeling James Clarke ook sulke opmerkings gemaak
Uit: Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika saamgestel deur Hermann Giliomee en Bernard Mbenga. In 2007 uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.