Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

19 July 2012

Die bleddie os

Diek van Wyk

Soutpansberg
Die meeste van my grootword het ek gedoen in die Soutpansberg-distrik, waar my pa die hoof van ‘n plaasskool was. Van tyd tot tyd het amptenare van die onderwys­departe­ment daar aangedoen. Soms het hulle hulle kinders saamgebring om ‘n bietjie bloot­stelling aan die Bosveld te kry, die “great outdoors” en so aan, en dan moes ek hulle geselskap hou, gewoonlik met min sukses. Tussen die kulture van ‘n stadsjapie en ‘n boslansertjie was daar in dié jare nie genoeg raakpunte vir geanimeerde kommunikasie nie.


1940-model Chev
By een so ‘n geleentheid het ‘n amptenaar daar aangekom met ‘n outydse bruin Chev-kar, een van die’s waarvan die agterdeure nog na voor, in die teenoorgestelde rigting as die voordeure, oopgemaak het. My pa het my kom roep en gesê daar is ‘n seun by die motor wat ek moet gaan besig hou. Toe ek by die motor aankom, staan daar ‘n nors knaap, ietwat jonger as ek, netjies uitgevat in ‘n swart broek en wit hemp, en skoene en kouse. Hy leun met sy rug teen die geopende agterdeur, regterhand op die deur se handvatsel en die linkerhand op die rugleuning van die motor, klaarblyklik nie baie geneë tot die geselskap van ‘n kaalvoet plaas­japie in kakieklere nie. Ek het my hoed afgehaal, my hand uitgesteek en myself voorgestel. Hy het my ‘n vuil kyk gegee, tot teen die motordeur geretireer en my afgemete toegesnou: “Joouublêêriejôôs!”

Joouublêêriejôôs
Ek was uit die veld geslaan. Ek het nie so ‘n Afrikaanse woord geken nie, veral nie een waarmee ‘n mens ‘n groet beantwoord nie. Dit was egter duidelik dat dit nie ‘n vriendelike aanspreekvorm kon wees nie, want daarvoor was sy liggaamstaal te negatief. Ek het besluit om hom die voordeel van die twyfel te gee en weer probeer groet, maar weer kom dit: “Joouublêêriejôôs!”, terwyl hy dié keer tot op die agter­sitplek van die motor retireer. Toe snap ek wat hy bedoel: “Jou bleddie os!”

Dit het nie vir my mooi geklink nie, veral nie as dit uitgespreek word asof dit een woord is nie. Die blerrie-deel kon nog gaan; in die bosveld was mens per slot van sake bloot­gestel aan taalgebruik wat nie altyd elegant was nie. Maar daardie os-storie! Dié ding van in die kraal platgetrek word waarna jy tot niks in staat is? Nee wragtag, so onnosel kan selfs ‘n dorpsjapie nie wees nie, tensy hy ‘n gevaarlike swak oog vir besonderhede het.

Ek het besluit dit is ‘n verskriklike belediging en het na my pa gegaan, hom eenkant geroep en gesê dié mannetjie moet hom liewer maar self besig hou, want hy sê dinge wat ‘n man se selfrespek raak. My pa was te besig met die besoeker om vrede te kom maak en het voorgestel dat ek die geweer vat en die knaap veld-toe neem om iets te gaan skiet. Ons was naamlik toegelaat om kleinwild op die buurman se plaas te jag. Ek is brom-brom huistoe om die geweer te gaan haal en my pogings tot toenadering te hervat, sy dit dan met minder entoesiasme.

    22 Oberndorf Mauser Ms350B 
Die geweer was ‘n dodelik akkurate .22 Mauser waarmee ek op ‘n keer ‘n rooibok platgetrek het. Dit was oorlogsjare en ammunisie vir kleinkalibergewere was skaars. In ‘n oorlog kan ‘n .22 weinig skade aanrig en dit was dus nie nodig om dit, soos die groter kalibers, by die polisie in te dien nie. Ons was tot 7 patroontjies per maand gerantsoeneer. Het jy dié opgeskiet, moes jy maar wag tot die volgende maand aanbreek. Jy het gevolglik seker gemaak dat elke skoot wat jy skiet, tref. My rantsoen vir die maand was juis die vorige oggend afgetel.

Ek is dus met die geweer en my 7 patroontjies terug na die mannetjie met die eiesoortige semantiek. Dié het hom intussen heeltemal in die motor teruggetrek. Ek het hom gevra of hy nie miskien iets wil gaan skiet nie. Sy houding het meteens verander. Hy het net “Jissie” gesê, uit die motor gespring en die geweer gegryp en waarderend bekyk. Hier was duidelik vir hom ‘n geleentheid om iets van die veldlewe mee te maak. Ons is dus die veld in, hy so entoesiasties as wat hy vroeër nors was, en ek nog steeds half nukkerig agterna.

Aiskriem-karretjie
Die kommunikasie wat eers uitgebly het, het nou soos ‘n rotsstorting op my afgekom. Hy vertel my van die lewe in Pretoria en al die lekker dinge wat hulle daar doen. Dis model-vliegtuigies bou en op rolskaatse ry en aiskriem by karretjies koop en met busse stad-toe ry en bioskoop toe gaan en vrugte steel en skelm rook en partytjies hou en sulke goed. En wat hulle alles met die meisies aanvang, selfs op dié tere leeftyd!

Vir ‘n boslanser was dit ‘n vreemde wêreld. Dit het net te goed geklink vir so ‘n ventjie om so vroeg al soveel te kon ervaar; dit wou vir my al voorkom of sy verbeelding hom fluks bystaan met sy relase. Ek probeer hom tussenin vra of hy darem al gejag het, of hy die verskil tussen ‘n v-visier en ‘n u-visier ken, of hulle met hulle gewere in die stad fyn of vol korrel, of hulle ‘n dier in die ore skiet of op die knoppe van die blaaie om hom ‘n doodskoot te gee. En ek probeer vir hom beduie dat ‘n mens sag moet praat of liewer heeltemal stil moet bly as jy nie diere wil verjaag nie, dat jy jou prooi van onder die wind moet benader, dat jy moet stilstaan as hy na jou kyk, en so aan.

Maar hy hoor my nie. Dis die een luidrugtige relaas op die ander van wat hy en sy vriende aanvang. Elke vriend word by die naam voorgestel, sy adres gegee, sy voorkoms beskrywe, sy gewoontetjies meegedeel, hoe ver hulle van mekaar woon en wat nog. En ek moet hoor van elkeen van sy onderwysers en hoe hulle droogmaak en hoe hy hulle verpes en wat hulle byname is en hoekom hulle so genoem word en hoe hulle  klasse “bank” en die een ding en die ander.

Tussendeur hou ek my oë benoud op die geweer gevestig, want dié swaai heen en weer en op en af soos hy daarmee beduie. My pa het my geleer jy hou ‘n geweer se loop altyd na die grond of in die lug, maar nooit in die rigting van mense nie, om ongelukke te voorkom. Dit was duidelik dat dié ou se pa nalatig was met dié faset van sy opvoeding. En ek was nie van plan om ‘n voorbeeld van die gevolge daarvan te word nie.

Duiker
Hy loop nog so en uitblaker, met sy oog op alles behalwe sy omgewing, toe die ongehoorde gebeur. ‘n Duiker spring ‘n ent van ons op en draf rustig reg voor ons verby. Die dorpenaar gee ‘n gedempte kreet, lig die geweer en skiet. ‘n Stoffie slaan so ‘n paar tree voor die duiker uit. Onmiddellik daarna volg ‘n tweede skoot, en weer slaan daar ‘n stoffie voor die duiker uit. En ‘n derde en ‘n vierde skoot en nog skote totdat die magasyn leeg is. Sewe knalle en sewe stoffies en ‘n duiker wat min gepla is deur die gedoe en nog steeds rustig aandraf en stadig die bosse in verdwyn.

Die jagter draai om na my en sê dis snaaks dat hy nie die duiker kon tref nie. Hy het seker gemaak dat hy so vyf tree voor die duiker korrel sodat hy in die koeël in sal vas hardloop wanneer hy skiet. Dit was eens te veel vir die boslanser. ‘n Maand se voorraad koeëls net so weggeblaas, en dit op die maklikste teiken denkbaar, iets wat my nooit oorkom nie!

Ek gryp die geweer van hom af, gaan staan voor hom en snou hom toe: “Jou bleddie os!”