Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

01 July 2012

Jan Esterhuÿs word Jean Extreux

Barry Vosloo

Sover ek kon vasstel is ek ‘n negendegeslag-nasaat (aan moederskant) van Christoffel Esterhuÿs. Volgens dr. J H Esterhuyse (Die Esterhuizen familie in Suid-Afrika) het Christoffel in ongeveer 1684 vanaf Groningen, Noord-Nederland, in die Kaap aangekom.

Esterhuyse skryf dat dié familienaam nêrens elders ter wêreld aangetref word nie. Bowendien was dit nie Christoffel se oorspronklike van nie. Omdat hy, soos baie van sy tydgenote aan die Kaap, ongeletterd was, het kompanjie-amptenare sommer die familienaam vir hom uitgedink.

Maar dit was nie net kompanjie-amptename wat met die name van mense gepeuter het nie.

Dr. Esterhuyse het onder andere vasgestel dat ene ds. Simond alle Nederlandse name en vanne tydens die doopproses ver-Frans het. Christoffel se oudste seun, Jan, se naam verskyn byvoorbeeld as Jean Extreux in die doopregister van die Franse gemeente in Franschoek! Hy is op 10 Mei 1700 gedoop. Volgens Esterhuyse is dit weer eens ‘n voorbeeld van hoe ook predikante se spelling en skryfwyse ‘n effek op die vroeë Kaapse families gehad het.

Oor die jare heen het die skryfwyse van die van gewissel tussen Esterhuize, Esterhuizen, Esterhuyse, Esterhuyzen en Esterhuysen. Tans word al vyf variante in Suid-Afrika aangetref.