Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

18 July 2012

Een dorp sterwe sodat ‘n ander kan lewe.

Amor Olivier

Die eerste veeboerpioniers het alreeds omstreeks 1770 die Camdeboo en die Sneeuberge bereik, maar as gevolg van aanvalle en plundertogte deur die Boesmans, was daar teen 1778 feitlik geen blankes meer in die omgewing nie.

Toe die distrik Graaff-Reinet in 1786 tot stand kom, het van hulle weer teruggekeer na hulle plase. In 1790 vestig die eerste boere hulle langs die bo-lope van die Seekoeirivier in die omgewing van die huidige Hanover en teen 1803 was daar verskeie plase in die distrik. Tussen 1837  en 1842 word  ongeveer 50 plase onder die erfpagstelsel toegeken, o.a. Petrusvallei waarop Hanover in 1854 aangelê is, asook Sevenfontein waarop die dorpie Burgerville later sou ontstaan.

In 1904 word daar ‘n sindikaat gevorm en die plaas Sewefontein Nr. 2 word van Gert Burger gekoop met die doel om ‘n dorpie aan te lê. Daar was nie genoegsame water op hierdie grond nie, maar daar was wel water op Sewefontein Nr. 1 wat aan Barend Burger behoort het.


Daar is vervolgens met Barend onderhandel en na sowat twee uur het hy ingewillig om sestien uur water per dag aan die sindikaat af te staan vir die aanlê van ‘n dorp. Van die onderhandelaars het toe gesê:  “Nou het ons sommer ‘n naam vir die dorp: ‘Burger wil’”, wat toe aangepas is tot Burgerville. (Daar was egter ook ander Burger-families in die omgewing, o.a. van my voorsate).  Met genoegsame water vir besproeiing het hier binne afsienbare  tyd ‘n dorpie sowat 30 myl vanaf Hanover ontstaan.

Alhoewel Burgerville eers in Februarie 1907 amptelik gestig is, wás daar in 1905 in werklikheid al ‘n dorpie. In Julie 1905  leen die Kerkraad van Hanover hulle ‘n bedrag van £125 om “een tijdelike kerkgebouw” op te rig. In 1906 stem die Kerkraad toe dat daar elke drie maande nagmaal bedien mag word, ‘n vergunning wat twee jaar later ingekort is tot slegs twee keer per jaar. Verder is ook  bepaal  dat geen kerkbasaars op Burgerville gehou kon word nie. Blykbaar was die Kerkraad bekommerd dat Burgerville “afvallig” sou  raak van Hanover se gemeente. Die “direksie” wat Burgerville se kerksake bestuur het, was natuurlik glad nie tevrede met hierdie reëling nie.

Toe daar in ongeveer 1910 sprake van die stigting van ‘n gemeente op De Aar was, het die direksie van Burgerville ‘n versoek aan Hanover se Kerkraad gerig om saam met De Aar ‘n gemeente te stig. Hulle was nie daarvoor te vinde nie, maar het weer in 1912 toegestem dat “een deel van het  Dankfeest Bazaar” op Burgerville gehou sal word en dat die kwartaallikse nagmaalvierings weer kan plaasvind. Vanaf 1914 is daar selfs een keer per jaar lidmate op Burgerville aangeneem en voorgestel. Daar was ook ‘n eie koster, orrelis en kassier met ‘n eie Sondagskool, C.J.V. en A.C.V.V.


In 1921 vra Burgerville verlof om ‘n nuwe kerk te bou, maar die Kerkraad het, weens die gebrek aan fondse, nie toestemming daarvoor gegee nie. Teen 1933 was daar skynbaar heelwat mooi woonhuise met baie bome, strate, ‘n kerksaal, ‘n skool en ‘n poskantoor, en alle publieke kantore het al reeds diens gelewer. Burgerville het sy eie dorpsbestuur gehad en weens die onuitputlike watervoorraad, was die inwoners vol verwagtinge. Teen 1921 was daar ‘n bevolking van 295 (volgens ene Dr. Venter).

Intussen het die spoorwegdorp De Aar se boorgate, waar die dorp sy water vandaan gekry het, al sedert 1929 een na die ander ingegee, en toe alle planne om die probleem op te los misluk, koop De Aar se stadsvaders in 1935 vir Burgerville met sy waterbronne uit.  Nou het die 175,000 gelling water De Aar van water voorsien en Burgerville se lewenskrag weggeneem!  Burgerville het al meer verlate geword met talle vervalle murasies. Die kerkplein, met die kerkgebou daarop, was ook onder die grond wat verkoop is, en alhoewel daar pogings was om dit weer terug te koop, het dit  nie geslaag nie. In 1936 is die kerkie gesloop.   So moes Bugerville sterwe sodat De Aar kon lewe! (Uit Hanover se eeufeesalbum, Ons mooi Erfenis)


De Aar wou nie die begraafplaas wat op Burgerville was van die Kerkraad van Hanover oorneem nie. Dit was later jare deur die Jooste-familie (nasate van Barend Burger) gekoop en in stand gehou. Daar is ook jaarliks deur die omliggende dorpe ‘n kranslegging gereël waartydens families die grafte kon besoek. Sewefontein se kerkhof was bekend as die Burger-kerkhof.

Skynbaar het hierdie geleenthede ook nou in die slag gebly. Dit is ‘n hartseer verhaal, want my ouers is in Burgerville getroud en heelwat van my Burger-, Human- en Sounes- voorsate lê daar begrawe.

De Aar het intussen ‘n belangrike dorp in die Noord-Kaap geword met die tweede grootste spoorweg aansluiting in die land. Ironies genoeg, is al wat van Burgerville oorgebly het,  die spoorwegstasie Burgerville-Weg wat langs die spoorlyn vanaf De Aar na Port Elizabeth geleë is. Dié stasie was daargestel om  Burgerville en die omgewing te bedien.