Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

29 July 2012

What’s in a name … ?

Barry Vosloo

Romeo en Juliet
Shakespeare se Juliet vra: "What's in a name? That which we call a rose by any other name would smell as sweet."

Sy praat natuurlik met haar kêrel, Romeo Montague, en probeer hom wysmaak dat ‘n naam eintlik ‘n kunsmatige en betekenislose konvensie is. Sy het hóm lief en nie die Montague-naam of –familie nie.

‘n Mens kan aanvaar dat Juliet dié woorde in ‘n waas van verliefdheid gebruik het sonder om te besef dat genealoë name sorgvuldig moet oorweeg as hulle van plan is om familiestambome te klim.


My pa se name was Wessel Stefanus. Hy is op 5 Junie 1908 op Somerset‑Oos gebore; die veertiende van die vyftien kinders wat ouma Sarie in die lewe gebring het.

Otto von Bismarck
Dalk was haar en oupa Ben se voorraad name teen dié tyd al uitgeput. Hulle het glo selfs “Bismarck” oorweeg. Oupa Ben het hoeka ‘n verering gehad vir hierdie argitek van Duitse unifikasie wat vanaf 1871 tot ongeveer 1890 die kanselier van die Duitse Keiserryk was.

‘n Familielid het hulle egter aangeraai dat familiename die aangewese ding was om te doen. Dit is (was?) mos ‘n goeie ou Boeretradisie. Hy het sterk aanbeveel dat my pa liewer na Gerrit Vosloo (Gert Houtkanon – klik hier) se jongste seun vernoem moet word. Sy naam was Wessel Stephanus.

Synde ‘n ongeleerde man, het oupa Ben egter 'n fout met die registrasie van die geboorte begaan en Stephanus het Stefanus geword.

Gert Houtkanon se Wessel Stephanus is op 26 Desember 1809 oorlede ‑ bykans 100 jaar vóórdat my pa gebore is. Na aanleiding hiervan het hy van kleins af meermale aan my gesê dat die naam Wessel Stefanus (Stephanus) Vosloo vir byna 'n eeu nie bestaan het voordat hy op die toneel verskyn het nie. Ek moet asseblief toesien dat die geskiedenis homself nie herhaal nie.

Dit was dus half vanselfsprekend dat my en Rita se eersgeborene Wessel Stefanus sou heet; die 74ste Wessel Vosloo wat sedert 1740 só genoem word.

Die naam Wessel is destyds in kombinasie met verskeie ander name gebruik. Wessel Johannes was veral gewild. 46 Vosloos het dié name gedra.

Die naam Wessel is waarskynlik van die Pretoriusse afkomstig wat in die vroeë 18de eeu in die Vosloo-bloedlyn ingetrou het. Die geskiedenis van die naam binne die Pretorius-familie het ‘n interessante verloop gehad.

Schüttorf
Barend Wesselszoon Schulte was van Duitse afkoms en is in 1596 in Schüttorf, Nedersakse, gebore. Hy het later na Nederland verhuis waar hy sy van na Schout ver-Hollands het. In 1612 is hy en Aaltje Jansdochter getroud en in 1614 word hulle oudste seun, Wessel, gebore. Dié Wessel het in 1636 in Leiden in die teologie gestudeer en volgens die gebruik van die tyd, het hy sy naam ver-Latyns na Wesselius Pretorius.

Wesselius se oudste seun, Johannes, is die stamvader van die Suid-Afrikaanse Pretoriusse. Volgens die gebruik wat vandag nog soms geld, het Johannes sy oudste seun na sy pa vernoem.