Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

04 July 2012

Nommering van geslagsregisters en kwartierstate

(Hieronder verskyn ‘n verduideliking wat van Isabel Groesbeek, genealogiese navorser en  inligtingskonsultant en voorheen Hoof: Genealogie-Inligting, RGN ontvang is aangaande die nommering van geslagsregisters en kwartierstate – Redakteur)

Geslagregisters: Die standaardnommering in RSA is in gebruik geneem deur CC de Villiers in die 19e eeu. Hiervolgens word 'n persoon se nasate só uiteengesit: die stamvader(s) (eerste bekende persoon in die land met die spesifieke familienaam) word as 'a1' of 'a2' of 'a3', ens. aangedui, kinders as die 'b'-geslag, kleinkinders as die 'c'-geslag, ens., met posisie van kind as syfer na die etter wat geslag aandui. 'n Individu het binne elke spesifieke geslagregister (per familienaam) 'n unieke reeksnommer op die plek waar jy inpas in die stamlyne van jou pa, ma, ens.

Wanneer die geslagregister van familie in stamlande opgeteken word, dui De Villiers aldaar ook die eerste bekende persoon as 'a'-geslag aan en sy kinders die 'b'-geslag, ens. Die koms na die Kaap of elders is 'n nuwe begin en die persoon is dalk 'n 'e'-geslag in Nederland, maar in RSA 'n 'a'-geslag. Navorsers wat publikasies saamstel moet net in 'n inleiding die genealogiese nommering verduidelik en lesers moet net die inleiding van 'n publikasie as riglyn lees.
 

Kwartierstaat: Die nommering wat gebruik word om 'n individu se direkte voorsate in alle bloedlyne aan te dui (ook oor landsgrense heen), is 'n internasionale nommering. Elke individu se nommer is uniek en vas. Die persoon wie se voorsate aangeteken word, word die kwartierdraer genoem. Die kwartierdraer kan enige persoon wees en sy/haar nommer is altyd 1. Sy/haar vader s'n is altyd 2, sy/haar moeder s'n is 3. Elke persoon in die verslag se vader is die individu se nommer x2 en elke persoon in die verslag se moeder is die individu se nommer x2+1. Alle manlike voorsate sal 'n ewegetal-nommer hê en alle vroulike voorsate sal 'n onewegetal-nommer hê.