Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

09 July 2012

Genealogiewerkswinkel op George

Stief Rootman

Ek was bevooreg om die werkswinkel van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) te kon bywoon wat op 18 Maart op George gehou is.  Dit was ‘n geleentheid om genealogie en al die dissiplines wat daarby inskakel, aan die breë publiek van daardie omgewing bekend te stel.
Alta Griffiths van eGGSA (die elektroniese tak van die GGSA) het die geleentheid gereël en alles het met militêre presisie verloop.   Die program was bondig en insiggewend en uiters geskik om nuwe belangstelling te prikkel, asook om deurwinterde navorsers ‘n breër uitkyk op die veld te gee.

Petro Coreejes-Brink, die huidige voorsitter van GGSA, het die teenwoordiges verwelkom en ‘n kort oorsig gegee van die GGSA se doelstellings.

Die verrigtinge is met skriflesing en gebed geopen en ds. Floors Meyer het ‘n praatjie gelewer waarin hy  genealogie as die “wordingsverhaal” gedefinieer het.

Simone Kay van GGSA het ‘n oorsig gegee van al die vertakkings en aksies van die organisasie.  Sy het veral verwys na die begraafplaas-, begrafnisbrief-, verspreide grafte, grafsteen- en kiesersrol­projekte en het vordering daarmee aangestip.

Jaco vander Merwe van eGGSA en argivaris van Kaapstad, het aangedui hoe navorsing by die argiewe gedoen moet word en wat ‘n mens van die personeel kan verwag,  Hy het die Van der Merwe-stamvader as voorbeeld gebruik.

Prof. Jeff Peires van die Cory Biblioteek, Grahamstad, het gepraat oor die daarstelling van die biblioteek en uitgewei oor die geskiedenis- en bewaringsfunksie wat hulle vervul.  Hy het veral die inligting van die Xhosas, die Britse Setlaars en die verskeie kerkgroepe van die Grensgebied beklemtoon en almal genooi om die museum te gebruik.

Kathleen Schultz, sosiologiese en geskiedkundige navorser, het ‘n aanbieding gelewer oor Damon, ‘n “uitsonderlike slaaf” en ‘n vryswarte, en sy leefwyse in die Knysna-bos.

Dr. Helena Liebenberg van TANAP het die skatte van die HOIK aan die aanwesiges voorgehou en beskrywe hoe hulle al die dagstukke en besluite van die Kaap getranskribeer en gedigitaliseer het sodat almal dit kan gebruik.  Dit is nou op CD beskikbaar. ‘n Span werkers help nou die Nederlanders om dieselfde met New York (New Amsterdam) te doen.

Faan Pistor van die Internasionale Historiese Genootskap van Robbeneiland het ‘n voordrag gelewer oor die gebrekkige samestelling van die eiland se geskiedenis en klem gelê op hoe hulle te werk gaan om deur kerkrekords ‘n databasis op te bou van die afgestorwe inwoners.

Marguerite Lombard is van die Drakenstein Heemkring, wat gestig is vir die bewaring van die kultuur­­historiese verlede van die Drakensteinvallei.  Hulle beskik oor ‘n waardevolle versameling inligting­stukke oor daardie gebied.  Dit sluit 29000 fotografiese glasnegatiewe uit die 10de eeu in.  Tans word dit na digitale formaat oorgedra.

Daar was ook ‘n groot aantal uitstallers wat boeke, CD’s, DVD’s en ander genealogiese inligting vertoon en te koop aangebied het.  Dit was die ideale geleentheid om daardie items te besigtig en aan te skaf.

Dit was ‘n puik geleentheid wat uitgeloop het op die stigting van ‘n volwaardige tak van die GGSA op George.