Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

06 July 2012

Sendingfamilies

Ben Jackson

Motivering vir sending
In die sending gaan dit oor die verkondiging van die Evangelie as blye boodskap van verlossing. Dit gaan gepaard met ‘n opdrag en roeping en word ondersteun deur die toerusting van die Heilige Gees. Geloof in die Here Jesus en die getuienis aangaande Hom kan nie geskei word nie. Sending is dikwels ’n kruiskulturele aktiwiteit, meer so in Afrika as bv. by Paulus. Dit kan lei tot paternalisme maar moet gepaard gaan met die nodige nederigheid. Die kleurkomponent oorheers vandag nie meer nie. Daarom is daar sendelinge in Frankryk, België en Rusland. Daar het ’n spontane getuienis, as missionêre dimensie, van sendinggesinne uitgegaan oor die manier waarop ’n Christelike gesin funksioneer. Hierdie werk word ook gedoen ten spyte van moeilike omstandighede. In al die sendingvelde was dit ’n omvattende Evangeliebediening wat gepaard gegaan het met ’n missionêre diakonaat van mediese dienste, onderwys (wat insluit skole vir blindes en dowes), landbou en ander vaardighede.

Die Murrays
 
Andrew Murray
 In 1822 vertrek Andrew Murray uit Aberdeen in Skotland om leraar te word van die Ned. Geref. gemeente in Graaff-Reinet. Hy trou in Kaapstad met Maria Johanna Stegmann. Hulle het agt seuns en agt dogters, waarvan vier jonk gesterf het. Vyf van die seuns word predikante.  Die oudste, John, word professor by die Kweekskool op Stellenbosch. Die tweede, Andrew, word die uitstaande geestelike leier van die kerk in Suid Afrika en ook die stigter van die Sendinginstituut op Wellington. Die derde, William, was leraar op Worcester en is mede-verantwoordelik vir die oprigting van die skole vir dowes en blindes.  Die vyfde broer, Charles, was leraar in Graaf-Reinet. Sewe van sy kinders het die kerk in die sending of in gemeentes gedien.

Charles se seun, ds. A.C. Murray, was die pioniersendeling wat die werk in Malawi in 1988 begin het.  Ds. W.H. Murray, seun van ds. Murray van Worcester, het saam met ander helpers die Bybel in Chewa vertaal. Die vyfde seun, George Murray, was leraar op Willowmore, Swellendam, Oudshoorn en De Hoop. Hy was die vader van ds. Louis Murray wat in Malawi in 1925 deur ’n gekweste leeu gebyt is en daarna gesterf het. Sy suster, Kitty Murray, was saam met ons op Gutu sendingstasie. Vanuit Mlanda in Malawi begin ds. A.G. Murray in 1908 die werk oorkant die grens in Mosambiek. As gevolg van die druk van die Roomse priester in Tete word die werk in 1922 gestaak. Van die oorspronklike ds. Andrew Murray se dogters het vier met predikante getrou.

Ds. Stephanus Hofmeyr het in 1864 as sendeling na die Soutpansberge gegaan  en daar verneem van die nood van die Sjona-mense in Zimbabwe wat gely het onder die aanvalle van Lobengula se Matabele-krygers. Hierdie nood het die jong ds. A.A. Louw van Graaff- Reinet en neef ds. A.C. Murray,  aangegryp en hy het per ossewa saam met sewe Sotho-evangeliste in 1891 by die hoofman Mugabe se berg aangekom. Daar is die sendingstasie Morgenster gestig, vernoem na die pastorie in die Paarl waar hy grootgeword het. Hy word die stigter van die sendingwerk in Zimbabwe en trou in 1894 met Cinie Malan, die suster van dr. D.F. Malan. Sy sou later saam met haar man die Sjona-taal op skrif stel en ’n grammatika-boek daaroor opstel. Sy help ook met ander christelike publikasies en die Sjona-liedboek. Hulle seun, dr. A. A. Louw, vertaal die Bybel in Sjona. Hul drie dogters trou almal met mans wat in die buitelandse sending werksaam was.

Die teologiese opleidingsentrum by Morgenster
Ds. H.W. Murray (Henry) word in 1911 hoof van die normaalskool vir die opleiding van buiteskool-onderwysers op Morgenster (Zimbabwe) en later ook hoof van die sending. Ds. Henry Murray neem ook deel aan die opleiding van leraars op Morgenster. Sy seun, ds. G.M. (George) Murray, word hoof van die sending in 1961 en was ook dosent aan die Teologiese skool. Die volgende geslag is tans nog betrokke by die Teologiese opleiding van predikante op Morgenster.

Die Pauws
Die stamvader van die Pauws was Eerw. Jacobus Cornelius Pauw, getroud in 1864 met Anna Margareta Kirchner. Hulle het nege seuns en drie dogters gehad. Sy eerste gemeente was Zoar en daarna Zuurbraak. In 1880 nooi Andrew Murray hom om te help met die opleiding van sendelinge op Wellington. Hy word medestigter van die NG Sendingkerk in 1881 en moderator daarvan in 1891.

Die sending in Zambië begin in 1899 onder die NG Kerk in die Vrystaat toe di. P.J. Smit en J.M Hofmeyr op Magwero begin werk. Ds. Christoffel Petrus Pauw, getroud met Esther Bremer en seun van J.C. Pauw, begin daar in 1905 op Fort Jameson werk. Hulle seun, Ds. Jacobus Cornelius Christoff Pauw, word later prinsipaal van die normaalskool vir die opleiding van onderwysers op Madzimoyo, wat later verskuif na Katete. Lg. se seun, die derde geslag, Dr. Christoff Martin Pauw, was in 1979 dosent aan die Teologiese Skool in Lusaka. Hy werk ook later by die Teologiese Skool in Malawi, word dosent in Sendingwetenskap aan die Kweekskool op Stellenbosch en was Sendingsekretaris van die NG Kerk in die Wes-Kaap.

Die Jacksons
Eerw. Arthur Charles Jackson, lid van ‘n familie wat in 1843 uit Engeland na SA gekom het, kom agter ’n karoobossie, waar hy skape opgepas het, tot bekering. Hy gaan in Wellington terug skooltoe en word as sendeling opgelei by die Sendinginstituut. Hy begin werk in 1904 op Pamushana in Mashonaland, Zimbabwe. In 1905 trou hy met  Mary Magdalena Murray die dogter van Robert William Murray, van Wellington, afstammelinge van John Murray, ’n sakeman van Edinburgh, Skotland. Sy was dus nie ‘n afstammeling van Andrew Murray nie. Sy sterf in dieselfde jaar aan malaria en word op Pamushana begrawe. Hy trou weer in 1908 Margaretha Johanna Eliza Pauw, dogter van eerw. J.C. Pauw. Eerw.  Arthur Jackson werk sedert 1927 as leraar van die Morgenster-gemeente en by die oord vir melaatses naby Morgenster. Hy werk later saam met sy seun Soulby op Chibi. Margaretha sterf op 1 Mei 1939.

Soulby voltooi sy teologiese studies in 1934 en vertrek na Mashonaland in 1935. Hy trou met Elizabeth Margaretha du Toit van Malmasbury in 1936 en begin werk op Jichidza. Hy vertrek kort daarna na Chibi, toe in 1944 na Zimuto en weer in 1950 na Morgenster as leraar en dosent by die Teologiese Skool. Hy werk later voltyds aan die hersiening van die Sjona-Bybel.

Vyf van hulle ses kinders gaan weer terug om as sendelinge te werk: Charl, Ebeth en Margaret in die  onderwys. Ben, getroud met Martha Margaretha van Zyl, bedien as leraar die gemeentes Gutu, Nyashanu en Mutare, en doseer van 1977-78 aan die Teologiese Skool op Morgenster - weens terroristebedrywighede moes al die blanke personeel aan die einde van 1978 die plek ontruim – daarna in Bulawayo vir een jaar en sedert 1980 vir 21 jaar as jeugleraar van die NGKA in Bloemfontein. Soulby (Oebie) het gewerk as sendinggeneesheer.

Arthur Jackson se jongste dogter, Irene, trou in 1938 met ds. Johan Steyl. Hulle werk veral in Tulbagh en Wellington in die gemeentes van die NG Sendingkerk. Hulle seun ds. Pauw Steyl was vir baie jare kapelaan vir die korrektiewe dienste.

Hierdie tydperk, waartydens elke sendingstasie personeel vanuit die NG Kerk in Suid Afrika gehad het, is verby. Daar is nog enkele sendelinge wat onderhou word, maar in die genoemde lande is daar nou inheemse kerke wat met die werk aangaan. Die klem het sedertdien verskuif na gemeentes wat plaaslik en verder sendelinge uitstuur en ondersteun.