Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

13 July 2012

‘n Voormalige Recce se storie

Diek van Wyk

Peet Coetzee, ‘n voormalige Recce (SA Spesiale Magte Brigade), het onlangs ‘n praatjie tydens ons maandvergadering gelewer - uit die vuis uit, g’n notas, g’n niks. En toe ek hom vra vir ‘n opsomming, het hy net gelag. Hier volg ‘n baie kort verslag van wat hy vertel het.

'n Lugfoto
Peet se lewensverhaal het eintlik op dreef gekom toe hy besluit het om die skool te verlaat en by die polisie aan te sluit. Daarna het hy hom na die ou Suid-Afrikaanse Weermag gewend waar hy in die lugmag beland het en opgelei is as ontleder van lugfoto’s. Dit is hier waar sy besondere vaardighede aan die lig gekom het. Dit het gou geblyk dat hy die fynste besonderhede uit foto’s kon ontsyfer, natuurlik met behulp van tegnologie, maar ook met ‘n goeie skeut eie vernuf. Hy kon byvoorbeeld selfs voetspore, wat van groot hoogtes verfilm is, identifiseer en die rigting waarin geloop is, bepaal.

'n Recce-baret
Later is hy na die sogenaamde Recces oorgeplaas waar sy gespesialiseerde kennis goed te pas gekom het. Self het hy nie verkenningswerk gedoen nie, maar hy was betrokke by die logistiese voorbereiding van verkenners en die verwerking van inligting wat deur hulle terug gebring is.

Peet het verskeie staaltjies uit sy dae op die grens vertel, onder andere van hoe inligting van gevange vryheidsvegters bekom is. Om elkeen te herhaal sou die hele nuusbrief vul. Interessant was verval stories rondom die mak leeu, Terrie, wat ‘n keer gebruik is in ondervraging om ‘n gevangene die skrik op die lyf te jaag. Sou die naam Terrie dalk ‘n verkorting van Terroris wees?

Peet, wat in Jeffreysbaai woonagtig is, het het sy praatjie verder toegelig met muurfoto’s wat tydens sy grensdiens geneem is. Hy het ook twee boeke, ryklik met foto’s geillustreer, geskryf oor sy grenservarings. Die boeke kan van hom bekom word.