Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

02 July 2012

Die Swarts en ander bekende families van die Overberg

Frank Swart

(Hieronder verskyn ‘n verslag van ‘n praatjie wat deur Frank Swart gelewer is tydens een van ons maandvergaderings. Toe ek hom vir ‘n opsomming vra, het hy my sy aantekeninge in die hand gestop: drie gedrukte bladsye met kriptiese notas, elk oor ‘n ander tema en elk mildelik voorsien van ewe kriptiese verbeterings en kantaantekeninge. Daaruit en uit wat ek onthou van sy praatjie moes ek dus ‘n samevatting prakseer. Ek hoop dit klop met ander aanwesiges se herinneringe daarvan – Redakteur)

My belangstelling in genealogie het begin toe ek as student kennis gemaak het met wyle dr. Con de Villiers, bekend as molekulêre bioloog, poliglot, vertaler van letterkundige werke, toneelopvoerder en musiekkenner.


Dr. Con se moeder en ouma aan vaderskant was Swarts en hy het ‘n groot hoeveelheid inligting oor die Swart-familie versamel. Saam het ons verder gewerk daaraan, en toe ek in 1971 na die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing is, het ek dr. Con oorreed om sy dokumentasie te oorhandig aan die genealogiese afdeling wat daar ingestel is. Die gegewens is verfyn en in 1977 in boekvorm uitgegee.

Ietwat later is daar met familiesaamtrekke begin, eers in kleiner en later in groter streke, totdat daar in 1985 ‘n drie-eeue fees van die familie by Goudini Spa gehou is. Intussen is daar hard gewerk deur verskillende streeksbesture om die familieregister op datum te hou en dit het gelei tot ‘n opvolgboek in 2000. Gesinsblaaie is uitgegee en in 1992 is begin met ‘n nuusbrief, Die Jaghoring, vernoem na die stad Hoorn waarvandaan die eerste Swart gekom het. Dit word eenmaal per jaar uitgestuur.

Die stamvader van die Swarts, Johannes Swart, het in 1685 van Hoorn na die Kaap gekom en as sieketrooster in  Stellenbosch gewerk. Sy vrou en drie seuns het hom 7 jaar later gevolg. Sy huis was op die hoek van Andringa- en Bondstrate en is later in die Stellenbosch Hotel verander. Die ouer deel van die gebou is as historiese gedenkwaardigheid verklaar en sodanig herstel dat dit nou as bewaarplek vir vir gedenkstukke van die Swart-familie dien.

Johannes se tweede seun en naamgenoot het na die Overberg getrek, waarvandaan dr. Con en onder andere ook Audrey Blignault as nasate gekom het. Baie van die familie het die binneland in getrek, onder meer na Transvaal, waar talle Swarts aan die Anglo-Boere-oorlog deelgeneem en baie in konsentrasiekampe dood is. ‘n Oom van dr. Con de Villiers was ‘n krygsgevangene in Bermuda en is in 1926 daar oorlede omdat hy geweier het om terug te keer om onder Britse bewind te bly.

Een groep van die familie het kus-langs na die Oos-Kaap getrek en was van die eerste setlaars in ons omgewing. Hulle het die grondgebied tussen die bergreeks en die see in die Humansdorp-area besit. Die eerste eienaar van die grond waarop Jeffreybaai se gholfbaan tans is, het aan ‘n Swart behoort; dit het aanvanklik ‘n groot deel van die huidige Jeffreysbaai beslaan. Oud-President CR Swart se familie het onder andere oorspronklik van Humansdorp af gekom. Verskeie ander Swarts woon vandag nog in hierdie omgewing.

Nog ‘n tak van die familie het na Natal uitgewyk waar hulle verengels het. Rae Swart, ‘n bekende VP-voorbanker van weleer wat Zululand in die Parlement verteenwoordig het, is een van hierdie Swarts.