Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

14 July 2012

Orrelpomp en mallemeulestoot

James Sadie

Ek het die voorreg gehad op ’n redelik klein plattelandse dorpie groot te word. Sommige mense sou dit miskien as ’n agterlike dorpie beskou, veral die stadsmense wat toe al vir baie jare die gerief van elektrisiteit, yskaste, lopende water, warm water en outomatiese telefone gehad het. Nee, ons het hierdie geriewe nie geken nie.

Saans het ons die kerse of die paraffienlampe aangesteek, warm water uit die ou “Welcome Dover”, wat heeldag gebrand of gesmeul het, se “boiler” (dis nou die koper houer met ’n kraantjie wat styf teen die vuurmaak gedeelte van die stoof ingepas het) getap om ons te was.

Omdat ons nie ’n yskas gehad het nie, moes ek elke oggend voor skool na die slaghuis draf om die pond en ’n half vleis teen ’n sjieling en twee pennies te koop. Ons het nie aan die Weskus gepraat van een en ’n half pond vleis nie; dit was ’n pond en ’n half. Dié reël het slegs vir een en ’n half pond gegeld. Twee en ’n half pond was twee en ’n half pond.

Omdat die plaaslike motorhawe se dieselkragopwekker slegs saans teen sononder deur oom Kosie aangeskakel is, het ons darem “krag” gehad vir die hoofstraat se straatligte (slegs elke tweede paal) en vir beligting vir inwoners langs die hoofstraat, totdat die opwekker om tienuur afgeskakel is. Dan was die dorp weer, behalwe vir die flikkerende kersliggies, in donkerte gehul.

Hierdie tekort aan al die geriewe het ook sy voordele gehad. Dit het werk geskep. Sondag tydens die oggenddiens moes die orrel gepomp word. Hier was nou ’n gulde geleentheid om ’n ekstratjie te verdien. Geld was skaars. Ek het daardie jare elke Saterdag van agtuur die oggend tot twee namiddag by ’n onderwyser gewerk vir een sjieling en ’n trippens. Die sjieling het ek gespaar vir ’n tennisraket en lekkers gekoop met die trippens - niggerballs en Wilson’s-taaitoffies; miskien selfs ’n stringetjie “drop”.

Vir baie jare het ek Sondae gesien hoe Alex Van Breda (later Speaker van die Volksraad) se kop op en af beweeg as dit agter die groot pyporrel uitsteek tydens die sang. Ek het geweet dat hy die orrel pomp, maar altyd gewonder hoe die pomp lyk en wat alles agter die orrel gebeur. Slegs die orreliste en die koorlede is op die galery voor in die kerk toegelaat.

As die preek begin, het tant Minnie Schikkerling, wat met haar rug na die gemeente voor die orrel gesit het, opgestaan en sy en Alex het gaan sit en na die gehoor gekyk terwyl hulle na die preek luister. Aangesien die dominee se preekstoel net onder die galery was, kon hulle slegs luister. Die dominee was totaal onsigbaar vir hulle.

Na Alex skool verlaat het, het my vriend Pieter Haan (Laubscher) die werk by hom oorgeneem. Dit het toe by geleentheid gebeur dat Pieter nie beskikbaar was nie en dit was my beskore om hom af te los as orrelpomper. Ek is natuurlik voor die tyd opgelei, soos hy op sy beurt deur Alex geleer is. Ter verduideliking sal ek eers ’n beskrywing gee van hoe die orrel werk en hoe dit daar agter die orrel uitsien.

Vir so ’n groot pyporrel word daar ’n groot volume lug benodig om die pragtige klanke voort te bring. En dan moet hierdie stroom lug ook baie mooi egalig voorsien word om te verhoed dat die note rukkerig deurkom.

Tant Minnie het ons vooraf baie streng gewaarsku om nie rukkerig te pomp nie. Mooi lang, elegante bewegings as jy nie jou werk wil verloor nie. En sorg dat die orrel altyd ’n groot genoeg voorraad lug in die blaasbalk het.

Stel jou voor die verleentheid as jy is in die middel van die versie is en die lug raak op. Absoluut onvergeeflik!

Die lugvooraad word gemonitor deur ’n kettinkie met ’n gewiggie wat altyd bo ’n sekere hoogte gehou moet word. Dit lyk amper soos die horlosies wat met kettinkies en gewigte werk. Die pomper moet gedurig sy oog op die gewiggie hou en sou dit lyk asof die vooraad laag word, moet hy pomp so al wat hy kan.

Hoe dit werk?

Daar is twee blaasbalke, elk met sy eie hefboom wat agter die orrel uitsteek. Die eerste is die kleintjie, wat normaalweg gebruik word. Dit steek ongeveer een meter agter die orrel uit. Die tweede hefboom is ongeveer dubbel die lengte en pomp die groot blaasbalk. Dit mag slegs gebruik word in ’n noodgeval. Dis nou te sê as die lugvoorraad krities laag raak. Dan moet dit uiters egalig gepomp word om te voorkom dat die note rukkerig deurkom. Hierdie blaasbalk trek natuurlik baie swaarder as die kleintjie. Dit was soms wel nodig om dit te gebruik soos wanneer tant Minnie die orrel ooptrek vir die laaste gedeelte van die dodemars, wat daardie jare die gebruik was aan die einde van ’n begrafnisdiens, net om seker te maak dat selfs die gehardstes tot trane gedwing word.

Wat het hierdie werk dan so in aanvraag gemaak? Geld natuurlik! Daar verdien ek ’n halfkroon (twee sjielings en ses pennies) vir slegs ’n uur se werk, teenoor die sjieling en ’n trippens vir ses ure se baie harde werk by meneer Pensie (bynaam).

’n Baie belangrike geleentheid op ons dorpie was die Mallemeule, aan die Weskus genoem die “Merry Geround”. Let mooi op die “ge” in die middel, nie “go” nie. Dit was net sulke goeie Weskus-Afrikaans as “erreplein”, “baisiekel” en “mouterkar”.

Daar was eintlik twee groot aktiwiteite -- die perdjies vir die kleiner kinders (soms ook die groteres) en die swaaie waar die ouens die meisies van agter gegryp en dan met ’n geweldige skop uitgeskop het, sodat hulle met ’n sierlike boog hoog die lug inskiet. Terloops, een van die meisies het dit so geniet tydens so ’n uitskop, dat sy beheer oor haar blaas verloor het, en die talle omstanders moes baie vinnig – sommiges te laat -- padgee om nie deur te loop nie. Die ander aktiwiteite was skyfskiet, poppe- en beertjies- raakgooi en “darts” gooi, waar jy pryse kon losslaan.

Met die koms van die mallemeule kon ons weer voordeel trek uit die feit dat ons dorpie nie elektrisiteit gehad het nie. Die swaaie, wat baie vinnig moes beweeg, is deur ’n petrol enjin aangedryf, maar vir die perdjies was daar van mensekrag gebruik gemaak. Kinders onder 16 kon destyds nog werk.

Die ronde platform met die twee rye perdjies het aan die ronde dak van die stelsel se balke gehang. In die middel was ’n groot silindriese hout vertrek met ’n platform waarop ’n mens kon loop. Al in die rondte terwyl jy teen die balk stoot waaraan die platform met die perdjies vasgeheg is. Twee van ons het dan deur ’n deur in die silindriese deel ingegaan as dryfkrag vir die perdjies.

Die perdjies word met kinders gelaai en wanneer hulle vol is, blaas die fluitjie en ons begin stoot teen die balke, al in die rondte, totdat die fluitjie weer blaas. Dan gaan sit ons op die balk en ry saam totdat die perdjies tot stilstand kom. In die proses het ons elkeen ’n trippens verdien. ’n Hele sjieling vir vier keer se stoot. En glad nie baie harde werk nie. As die spulletjie eers aan die loop is hou die momentum saam met ’n ligte stootjie die stelsel maklik aan die loop.

Ek dink ek kan baie eerlik sê dat baie min mense vandag kan sê dat hulle perdjies gestoot het.