Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

12 July 2012

Ons het eens 'n plaas in Afrika gehad ...

Myra Bosch

Eers was daar net bos in die voormalige Rhodesië.

Die voormalige Rhodesië

My pa
Toe koop my pa in 1918 op 22-jarige ouderdom 'n plaas by die Britse regering as vergoeding vir sy bydrae as skerpskutter gedurende die eerste wêreldoorlog.

Al wat vrylik rondbeweeg het was "God's creatures great and small". Dit was voor mense dié pragtige land verwoes het. 'n Huis het my pa toe vir hom gebou van selfvervaardigde bakstene; 'n dak van handgesnyde gras is opgesit en beeste en hoenders en eende en kalkoene is met verdrag gekoop en aangejaag of  -gery en ingehok of -gekamp. Vrugtebome is vanuit die Kaap deur die pos bestel en aan weerskante van die plaaspad vanaf die groot pad geplant en grondbone en groente is gesaai.

En siedaar: 'n plaas.


Soos die behoefte ontstaan hethom voorgedoen het, is bykomstighede geprakseer. Drinkwater is aanvanklik in 'n drom met 'n kruiwa van die rivier af aangery, maar die sweet van die aanskyn en van al die bedekkings, hetsy op die bed, oor die tafel of aan die lyf, moes egter maar in die rivier afgespoel word. Maar wat die mens inneem, moet ook uit.  My pa was 'n beskaafde man wat grootgeword het op 'n beskaafde plaas in die omgewing van Beaufort-Wes. Dus, toe hy vir hom 'n sendingmeisie wou neem as vrou, moes hy vir haar 'n ordentlike plekkie prakseer waar sy oor dinge in stilte en vrede kan peins.

Diep, (want hy het beplan om nog baie jare daarvan gebruik te maak) en ver van die huis af (weens voor-die-handliggende redes) is die gat gegrawe. Rou tuisgemaakte baksteenmure, met 'n lang, plank sitplek, kompleet met 'n groot gat en 'n kleiner gaatjie (want, so het hy beplan, iemand sou darem die plaas by hom eendag moes erf) is netjies daarnaas uitgekerf. Die balke van die dak het maar oop gebly en het later blyplek, permanent of tydelik, geword vir "God's creatures great and small"

Dit was in die dae voor die Landbou Weekblad maar die Farmers Weekly is gereeld afgelewer by Chatsworth, wat op 20km na, die naaste stasie was. Nadat die tyskriffie van hoek tot kant gelees is, is hy netjies op die grond langs die plank sitplek gepak om te dien as afleiding en daarna as toiletpapier.

Die huisvrou het soms, gedurende haar bepeinsinge, die A4-bladsye in netjiese kwarte geskeur en dan aan die hak van gebuigde draad gesteek wat teen die muur vasgespyker was. Die verbruiker het dan, gedurende sy/haar bepeinsinge, die stukkies papier afgehak en saggies tussen die twee hande gefrommel en gevryf totdat die regte sagtheid verkry is. Hoe ouer die verbruiker, hoe meer behendig het hy/sy geword om die papier sag genoeg vir die beoogde doel te kry sonder om dit te skeur. 'n Effense hardhandigheid in die vryf het tot skeure en katastrofiese gevolge gelei want dit was in die tyd voor wasbakke en krane.

Aangeryde water was hoofsaaklik daar om gedrink te word. Ons is ook mooi geleer om nie te mors nie, want die Farmers Weekly was net só dik.

Die houtdeur het 'n haak van binne gehad. Vir privaatheid, sien, want my pa het voorsiening gemaak vir besoekers ook. 'n Paadjie vanaf die voordeur, reguit soos 'n liniaal, (en te lank vir 'n klein dogtertjie wat soms tot die bitter einde moes wag) is uitgekap en het daarna nooit weer kans gehad om toe te groei nie.

En siedaar: 'n kleinhuisie.

Die kleinhuisie het vir baie benoude oomblikke gesorg juis as gevolg van die menigte permanente of tydelike inwoners. Dit was meestal die tydelike inwoners (so genoem omdat hulle gou verwilder kon word) wat gemaak het dat daar 'n stok buite langs die deur permanent staan gemaak is. Ons kinders, opgevoed soos ons was, het soms, veral as dit skemer is, liefs ons bepeinsinge agter die geboutjie gaan neem, want daar kon jy nog skree en wegspring as iets teen jou agterstewe skuur of langs jou kruip of opspring. En daar was altyd 'n klip naby waarmee jy jouself kon verdedig of beveilig.

Vir die nagbehoeftes is daar "enamel"-potte onder elke bed geplaas. Die dubbelbeddens het twee gehad – een vir elke kant. Later van tyd het sommiges uitgekom met prentjies van rose. Dié potte is dan opsygesit vir damesbesoekers.

Die dapperes, soos my pa en my groot broers, het die "torch" langs die voordeur geneem en die lang pad geloop, maar ons meisies het maar gehurk en gemik en ons ding gedoen in die maanlig daar binne die veiligheid van ons kamers.

Netjies opgevou, op die stoel in die kamer, was daar altyd 'n mooi spierwit doekie. Dié het ons dan daarna geneem en oor die gebruikte pot gegooi, gereed vir deponering in die kleinhuisie die volgende oggend.

Later het my ma haar roostuin langs die lang, reguit paadjie gemaak. Ek weet nie of sy gedink het dit sou die "klankies" wat soms deur die oostewind huiswaarts gewaai is, verbloem nie, en of sy net gereken het dat die bemesting een of ander tyd sou deursypel na die rose se wortels toe nie. Ewenwel, dit was die weelderigste roostuin ooit en het die besoekers na die kleinhuisie se gedagtes na "loftier heights" geneem ter voorbereiding van hul voorgenome bepeinsing.

Die kleinhuisie het vir my ook uit baie benoude oomblikke gered. Ek is gebore ná die tweede wêreldoorlog, en dus ná die depressie. Alle ma's het toe geglo dat gesonde kinders, vet kinders is. Ten spyte van haar mees kreatiewe pogings, (spinasie gemeng met grondboontjiebotter) was dit nie die Jackson-kinders beskore nie.

Ons het net té veel energie gehad. Dit was "touches"-speel in die enorme vyeboom, resies in die plaaspad hardloop en koppies uitklim op soek na Boesmantekeninge wat ons spiere sterk en ons vet in toom gehou het.

Ma het kaaiings gebak en dit geplak op dik gesnyde, varsgebakte brood binne in 'n laag goudgeel plaasbotter. Vet op vet op vet, maar wat maer bly, was ons.

Middagete was die hoofmaal van elke dag en vleis en ten minste drie groentes en poeding (ingelegde vrugte en vla) is elke dag opgedis. Ten spyte van ons energie, was ons nie een groot eters nie, maar die kos moes IN.

Ekke, toe ek nog 'n Jackson was.
Toe al my ouer broers en sussie uit die huis is en net ek en my bababoetie nog oor was, het my ma my laat sit, met ons kok, (genaamd Cooka, soos alle plaas kokke in Rhodesië) wat moes toesien dat ek my bord leeg eet. Ek was maar van kindsbeen af hardkoppig en dit het 'n magsspel geword, waarin ek, (heimlik en sonder my ma se wete) die oorwinnaar geword het. Want sien, dis hier waar die kleinhuisie tot my redding gekom het. Ek, wat my ma se kreatiewe denkwyse geërf het, het vir Cooka beduie ek moes gou "hambira lo toilet", my mond en albei my hande vol kos geprop en dan vinnig dit in die put se klein gaatjie gaan aflaai. Op my drafstappie langs die reguit paadjie af, het ek oopoog gebid dat "God's creatures" iewers buite die kleinhuisie aan't weie was, want daar was nie nog 'n hand om die stok vas te gryp nie.

'n Tien of wat jaar gelede, toe ek weer op die plaas aankom vir een van my broers se begrafnis, ontdek ek dat die plaashuis nou spoeltoilette en lopende warm en koue water het. Die lang, reguit paadjie het plek gemaak vir 'n krieketkolfblad en die kleinhuisie se agterste muur vir 'n oefenmuur om my pa se agterkleinseuns se balvaardighede te help ontwikkel.

Vandag is alles seker toegegroei en wild want die putte en potte wat drie geslagte oorleef het, was nie bestand teen Afrika nie, en die mense wat hulle harte en lewens in die plaas in Afrika gestort het, is óf begrawe óf boer elders in meer beskaafde lande.