Diek van Wyk
Die donkie is 'n wonderlike ding |
In die ou dae het die radio gereeld ‘n liedjie van Chris Blignault uitgesaai met die titel: “Die donkie is ‘n wonderlike ding”. Êrens in die liedjie, altans soos ek dit onthou, het die woorde "Hy loop op die strand en vreet 'n koerant" voorgekom. Dit moes bewys hoe wonderlik 'n donkie is.
Ek is nie seker dat Chris donkies geken het nie, in elk geval nie plattelandse donkies nie. Die plekkie in Limpopo waar ek groot geword het, is ver van die see af, dus was daar nie vir my geleentheid om waar te neem hoe donkies hulle op ‘n strand gedra nie. Koerante was in die wêreld van my kleintyd in elk geval skaars. As jy gelukkig was, het jy hulle twee keer per week te siene gekry. En dan was hulle reeds oud, omdat hulle heelpad per trein van Pretoria of Johannesburg moes kom en dan nog van die naaste spoorwegstasie af met 'n padmotorbus vervoer moes word. Die koerante wat daar uitgekom het, moes buitendien bewaar word om spensrakke mee te bedek. Vir my was 'n donkie gevolglik nie 'n koerantvretende dier nie en dus nie wonderlik volgens Chris Blignault se maatstawwe nie. Wel om ander redes.
Op die plaas waar ek baie ure rondgedwaal en gefantaseer het oor nuwe wêrelde wat ek sou ontdek en verower, en selfs iets van die natuur geleer ken het, het ek dikwels afgekom op 'n ou horrelpoot-donkie wat in die veld gebly het. Sy linkervoorpoot se hoef was vergroei en het soos 'n stomp hout voor hom uitgesteek. Gevolglik het hy mank geloop, met die horrelpoot wat soos 'n swaar gewig aan sy been rondflap. Hy was vir niks geskik nie en was toegelaat om genadebrood te eet. Aan genadebrood, of dan genadegras en -bossies, was daar in die bosveld nie 'n tekort nie. Die ou het dus heel gerieflik oorleef en hy het nie koerante as dieetaanvulling nodig gehad nie, ook al sou dit beskikbaar gewees het.
Hoe kan 'n mens nie deernis met so 'n dier hê nie? |
Een ding staan egter soos 'n paal bo water: donkies kan skadeloos, waardig en deerniswekkend wees, maar moedswilliger kry jy ook nie maklik nie. Dit was 'n donkie wat my eenmaal met sy moedswilligheid byna tot beroerte gedwing het. Ons was van Pretoria op pad na my oupa se plaas in die Mafikeng-distrik, nege van ons gepak in ‘n 1949 Ford, ek die bestuurder en dus die verantwoordelike. Dit was 'n warm April-dag.
Ons was nog nie halfpad nie, toe die motor begin kook. Ek het by die eerste beste windpomp langs die pad stilgehou en water geskep om in die verkoeler te gooi. Al skepding wat ons in die motor gehad het, was 'n ou vilthoed wat ek saamgevat het vir die son. Dit kon 'n liter of twee akkomodeer en was nogal effektief as skepding. Dit was net moeilik om hom so te hanteer dat alles nie uitmors wanneer jy motor-toe draf nie. Ons het nie ver gery nie, toe die kar weer begin kook. Weer moes ek by 'n windpomp stilhou en skep en terug draf motor-toe en ingooi en ry en hoop dat ek betyds die volgende windpomp haal. En so het dit hinkepink tot op Mafikeng gegaan, van windpomp tot windpomp, skep, ingooi en so vinnig moontlik ry om so ver moontlik te kom voordat ons weer moes stilhou. Dit was nie bevorderlik vir lankmoedigheid nie.
Tussen Mafikeng en my oupa se plaas was daar nie soveel windpompe langs die pad as in die Wes-Transvaal nie. Ek moes dus so vinnig moontlik ry om behoue op die plaas te kom, waar ons die verkoeler kon nasien. Juis toe moes dit gebeur dat daar 'n donkie dwars voor ons in die pad staan só dat ek nie by hom kon verbykom nie.
Teen dié tyd was ek lankal nie meer in 'n akkommoderende bui nie. Ek was sopnat van al die water wat op my uitgemors het. En my hande was seer gebrand van die warm verkoelerprop en vuil en vol olie van al die gesukkel. En daar staan die donkie voor my en weier om pad te gee.
Moedswillig |
Daar sit ek toe in die motor met die donkie se kop 'n paar sentimeter van my. Ek kan hom nie in die oog kyk nie, want hy maak of hy my nie sien nie. Ek was moedeloos gesukkel en magteloos omdat daar niks was wat ek aan die saak kon doen nie. As ek 'n slaanding in die motor gehad het, of beter nog, 'n skietding, kon ek nog tot aksie oorgegaan het. Maar daar was niks wat aksie toegelaat het nie.
Dit is toe dat ek self oorverhit het. Ek steek my kop by die venster uit en spoeg na die oog wat nie na my wil kyk nie. My visier was effens uit, want ek kon hom nie in die oog tref nie, maar wel langs die wang. Maar nog maak hy of hy nie bewus is van my bestaan nie. Op die ou end het dit my gekos retireer en deur die veld om hom ry.
Maar om terug te kom na my grootwordwêreld. Ons jongklomp het graag donkies gery as ons op hulle afgekom het. Dit is wanneer jy op hom wil ry dat jy agterkom die verbrande ding is nie net moedswillig nie, hy is nog skelm ook. Klim op sy rug en hy kies terstond koers na die naaste doringdraadheining en gaan skuur daarteen om jou van sy rug af te kry. Of hy kies 'n boom met 'n lae dwarstak en loop onder hom deur. Dit is dan dat jy maar afspring en hom in gespierde Afrikaans laat verstaan wat jy van hom dink.
As daar nie 'n draadheining of 'n boom in die nabyheid is nie, slaan hy oor na 'n skommeldraf, met pynlike gevolge. 'n Donkie ry 'n mens nie met saal en toom nie. Jy sit bloots op sy rug en hou aan sy maanhare vas, of jy slaan jou arms om sy nek en klou vir wat jy werd is. As hy jou dan met sy gedraf op en af laat wip terwyl jy vooroor lê, werk dit ongenadig met jou sitvlak se gal - en met naasliggende dele van jou anatomie.
Donkiery |
Wernie was die senior onder hulle en het derhalwe die eerste kans gekry om op die derde donkie te ry. Toe hy sy sit kry, spring die donkie op volle vaart weg en pyl reg op 'n moretlwa-bos af. Toe hy by die bos kom, swenk hy skielik met 'n hoek van 900 na links. Wernie was dit nie te wagte nie, of hy het nie behoorlik vasgeklou nie. Die gevolg was dat hy met 'n hoek van 1350 na regs afgeskiet het. Hy het op sy maag aan die ander kant van die moretlwa-bos te lande gekom en sy wind uit geval.
Hy kom stadig regop met sy gesig vaal van stof en sy mond skeef getrek van benoudheid. Hy probeer praat, maar kry nie veel uit nie. Terwyl sy asem al minder word hyg hy: "O God ... ek kan nie ... asem kry nie ... ek kan net... uitasem." Na 'n paar probeerslae kon hy darem weer inasem. Maar toe kon hy weer nie uitasem nie en stotter hy: "Nou ... kan ek nie ... uitasem nie". En so het hy tussen net-uitasem en net-inasem geskoppelmaai totdat hy weer normaal kon asemhaal. (Ek wens ek kan hom ‘n slag weer verpes oor dié insident, maar hy het intussen verhuis na ‘n oord waar hy nie sy internasionaal erkende navorsing in mondpatologie kan voortsit nie - en waar ‘n mens ook nie donkies kan ry nie.)
Die ander drie het hulle nie aan Wernie gesteur nie, en terwyl hy nog sukkel om sy asem terug te kry, het hulle die donkie geannekseer. Kepler was eerste op sy rug. Die donkie het sy taktiek verander. In plaas daarvan om weg te hol, het hy rustig aangestap na 'n vervalle takkraal 'n entjie daarvandaan. In my wêreld is daar nie bouklip nie. Veekrale, veral tydelikes in die veld, is dus van doringtakke gemaak wat in 'n sirkel op mekaar gestapel is, met 'n opening vir 'n ingang. Dié is dan toegemaak met 'n tak wat weggesleep kon word om die diere in en uit te laat.
Die kraal waarop die donkie afgestap het, was in onbruik en die takke het al begin inmekaarsak van ouderdom. Hy het daaroor geloop en so gaan staan dat sy voorpote binne-in die kraal en sy agterpote buite die kraal is. En daar sit Kepler toe. Hy kan nie beweeg nie, want as hy roer, val hy in die dorings.
Sy broer Tienie het gesien hier kom probleme en hy sal 'n plan moet maak om sy boetie te red. Hy gryp toe 'n tamaaie stomp hout en storm met mag en mening op die donkie af, gereed om hom daarmee te foeter. Soos hy hardloop, skree hy: "Hou moed, Kep, klou vas en bid so 'n bietjie!"
Maar die wonderlikste van alles is dat hy jou leer om jou lot moedig, rustig en waardig te aanvaar al word daar slegte kaarte aan jou uitgedeel, dat futiele gebare die onvermydelike nie verander nie, en veral om vas te klou, moed te hou en te bid wanneer die lewe viervoet met jou vassteek op plekke waar daar geen afklimkans is nie.